Friday 29 July 2011

Dominee … hou op om die gemeente te bederf

Bederf – onbruikbaar of slegter maak of word; verrot (vleis); verwen (kind)
(Beknopte verklarende Woordeboek. Kritzinger, Eksteen.)

Ons lewe in ‘n tyd waarin daar “tong in die kies” (maar tog met groot erns) verwys word na bedorwe kinders en hulle gehoorsame ouers. Die rede daarvoor is die feit dat baie ouers uit hulle pad gaan en hulleself te kort doen om te voorsien in al die dinge wat hulle kinders van hulle vereis. Die Engelse woord vir bederf is “spoil” en kan direk in verband gebring word met die Afrikaanse woord “verrot / vrot”. Hierdie woord dra baie beslis nie ‘n goeie of positiewe betekenis nie. Terwyl ouers uit hulle pad gaan om hulle kinders te bederf, is hulle eintlik besig om hulle “onbruikbaar” te maak en “slegter” aan die ander kant te laat uitkom. Ouers moet in vandag se lewe baie ernstig besin oor die wyse waarop hulle betrokkenheid by hulle kinders hulle of toerus - of onbruikbaar maak vir die lewe.
Dit het my ook laat dink aan die kerklike bediening. Is dit nie ook wat baie dominees in hulle bediening in die gemeente doen nie? ‘n Lidmaat-behoefte-gedrewe bediening waarin die predikant uitsluitlik gefokus is op dit wat die lidmaat vra, versoek en verwag,  het ook die uiteindelike gevolg dat die hele gemeente op die ou einde slegter daaraan toe is omdat die lidmaat nie tot bruikbaarheid toegerus word nie, maar tot persoonlike behoeftebevrediging bederf word. ‘n Instandhoudingsbediening, wat die kenmerk van die meeste gemeentes se bediening geword het, probeer om die status quo te bewaar, maar het die uiteindelike gevolg dat daar eerder agteruitgang en verderwing is. Ons kerklike lewe is op die oomblik in ‘n krisis as gevolg daarvan.
God se Woord is duidelik: Efesiërs 4: 12 praat van ‘n Toerusting-bediening in die kerk van Jesus Christus. Toerusting beteken: bruikbaar-maak / in werking stel (Sien Efesiërs 4: 16). Die herder-kudde model van bediening is belangrik, maar dit moet die liggaamsmodel van funksionering in werking stel, anders is daar verderwing.  
Ouers moet nie (net) dinge vir hulle kinders doen nie, maar hulle leer om self ook dinge te doen. Kerklike bediening is nie die dominee wat (alles en almal) bedien nie, maar die dominee wat saam met die ander ouderlinge die lidmate toerus om self te bedien / diensbaar te wees / in werking gestel te word / bruikbaar te wees in die koninkryk. Die kerklike (gemeentelike) bediening moet gemeet word in die funksionering van die amp van die gelowige.
Die vraag is HOE? Dit vra ‘n “kopskuif” – en ‘n nuwe benadering, wat baie beslis negatief beleef sal word. Dink maar hoe kinders reageer as ouers nie na hulle “pype wil dans nie”. Maar – dit gaan in die heel eerste plek nie oor wat kinders van hulle ouers of die gemeente van die dominee verwag nie, maar oor God se opdrag. Om te bedien is nie om te bederf nie.         

Monday 20 June 2011

Jou kandelaar in gevaar? (Openbaring 2: 1 - 7)

Die gemeente van Efese was uitsonderlik bevoorreg deurdat hulle oor baie jare besondere genadesorg van ons Here ontvang het. Vanaf die ontstaan van die gemeente was daar goeie bediening in hierdie gemeente. Lees gerus in die boek Handelinge van Aquila en Priscilla, Apollos, die apostel Paulus self, die jonge Timotheus en selfs Johannes se bediening. By al die kosbare Nuwe Testamentiese geskrifte wat direk op hierdie gemeente van toepassing was, skrywe Jesus Christus ten laaste Self ook 'n laaste brief (Openbaring 2) aan hierdie gemeente. Twee sake kom duidelik na vore:

1. Jesus Christus is positief oor hulle negatiwiteit.

Hulle was inderdaad negatief oor die regte sake. In 'n tyd van dwaalleer het hulle, ondanks aanslae (van binne en buite - vgl Handelinge 20: 29. Paulus se waarskuwing aan die ouderlinge van Efese) vas bly staan by die waarheid van God se Woord. Hulle het goeie ondersoek gedoen as daar enige twyfel was en kon alle dwalinge ontbloot as leuens en dwaalleraars as leuenaars. Hulle het volhard in leersuiwerheid.

Maar daar was 'n baie ernstige probleem in die gemeente. Dit was so ernstig dat hulle kandelaar in gevaar was om verwyder te word (Openbaring 2: 5). Hoe belangrik leersuiwerheid ookal is - daar moet ook leefsuiwerheid in die gemeente wees.

2. Jesus Christus is negatief oor hulle nalatigheid.

Hierdie gemeente was alleen kenbaar in dit wat hulle nie gedoen het nie. Hulle was net "anti-" mense. Dit is soos die "negatief" van 'n ou foto (swart en wit). Daar is wel 'n prentjie, maar dit is heeltemal kleurloos en onvolledig. Wat het gebeur? Oor baie jare het hulle verval in formalisme - hulle het nog al die regte dinge gesê en gedoen, maar sonder dat daar enige inhoud meer is. Dit is soos "oud-getroudes" in 'n huwelik. Hulle gaan nog deur al die regte bewegings, maar sonder dat hulle harte meer aan mekaar gebind is. Dit is vir die Here onaanvaarbaar. Wanneer gemeente-wees alleen maar soos die negatief van 'n ou foto lyk, is daar geen getuienis wat regtig 'n "kleurvolle" getuienis-verskil in hierdie wêreld maak nie. 'n Gemeente moet nie net geken word vir dit wat hy nie doen nie, maar veral vir dit wat hy wel is. Die verskil lê in die positiewe verandering wat God se Gees deur die gemeente bewerk. 'n Volkleurfoto wat getuig van God se genade.

Die Here is besig om baie gemeentes in die Westerse wêreld "toe te maak" (kandelaars te verwyder?). Hy mag wel positief wees omdat hulle negatief is oor die regte dinge ... maar dit wat die deurslag gee is die feit dat Hy negatief is oor hulle nalatigheid.  

Ek wil jou nie ken vir wat jy NIE doen nie, maar vir die verskil wat jy maak omdat jy wel die regte dinge doen.